

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 September 2009
Daar bestaan ‘n wesentlike gevaar dat die omvang van die verval van dienste en ‘n kultuur van nie-aanspreeklikheid daartoe kan lei dat protes tot verset kan oorgaan.
Hierdie ernstige waarskuwing is gerig tydens ‘n onlangse ontmoeting tussen verteenwoordigers van die plaaslike belastingbetalersvereniging (SBBV) en die NG Kerk se Ring van Louis Trichardt.
Afgevaardigdes van die NG Kerk Ring van Louis Trichardt en van die gemeentes Louis Trichardt, Soutpansberg en Levubu het saam vergader in Junie op versoek van die NG Kerk.
Die NG-afgevaardigdes het die standpunt van die Noordelike Sinode oor Christelike verset met die SBBV gedeel. In die vergadering het die SBBV dit uitgespel dat hulle nog steeds binne en volgens die wet optree.
Die afgevaardigdes van die NG Kerk het dit duidelik gestel dat die omvang van die verval van dienste en die toenemende kultuur van nie-aanspreeklikheid van so ‘n omvang kan raak dat daar ’n verskuiwing van protes na verset in die gemeenskap kan kom. Daarom is dit belangrik om duidelike riglyne vir Christelike verset daar te stel.
Daar is gesamentlik ooreengekom dat die NG Kerk en die SBBV met mekaar sal kontak hou oor hierdie saak. Die NG Kerk sal graag wil bydra dat, sou daar verset in die gemeenskap kom, of as daar op verset besluit sou word, dit sal gebeur binne die riglyne wat die Bybel stel.
Die SBBV het saam met die NG Kerk oor die riglyne van verset besin en kennis geneem van die dokument van die sinode wat as motivering vir hierdie riglyne gedien het.
Die riglyne van die sinode vir Christelike sluit onder meer in dat Christelike verset ‘n uitdrukking is van geloof dat Jesus Christus die Here van die wêreld is en dat Christelike verset ‘n weiering is om te wanhoop, selfs wanneer ‘n owerheidsinstansie ‘n gemeenskap onregmatig oorheers met wisselende vorms van intimidasie, geweld, uitbuiting, roof en moord. Christelike verset is verder altyd die soeke na reg en geregtigheid vir alle mense uit liefde en nie uit wraak, eiegeregtigheid, magteloosheid of hebsug nie.
‘n Volledige afskrif van die riglyne is verkrygbaar vanaf ds. Petrus Kriel by tel. 082 898 2081, of stuur ‘n e-pos na [email protected]
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
